TERRATEK

Dr Flippie Cloete
HUB: Terratek

T:(018) 581 1016

TERRATEK verseker Suidwes en die boer se volhoubare en welvarende voortbestaan deur wetenskaplik-gefundeerde kundigheid en tegnologie te verskaf. Produkte vir die bestuur van presisieboerdery wen veld en word al hoe meer by leierboere en jong boere aangetref. Dié benadering van boerderybestuur benut die jongste tegnologie om insetkoste te beperk en wins te vergroot. Die neiging is dat boere geleidelik na presisieboerderybestuurspraktyke oorskakel. Terratek bied volledige, onafhanklike landboukundige dienste in grondkunde, akkerbou, vogbestuur en geografiese inligtingstelsels aan.

Akkerbou- en grondkunde
Gronddata word elektronies met behulp van moderne toerusting in die veld versamel, wat meebring dat dit effektief tot verstaanbare gebruiks- en aanbevelingskaarte gemanipuleer kan word. Hierin speel die hidrouliese grondboor, penetrometer en neutronvogmeter ’n sentrale rol. Stropermonitordata en satellietbeelde vorm deel van dié proses om gewasgroei en opbrengs te monitor en te verbeter. Bedryfsondersteuningkundiges bespreek die resultate met die boer en maak aanbevelings wat insette optimaliseer en winsgrense kan verhoog.

Grondklassifikasie, interpretasie van grondontledings, identifisering van verdigtingslae en bewerkingsdiepte, bepaling van droë-landgrondwaterinhoud en besproeiingskedulering is van die grondkunde vakgebied se belangrikste dienste.

Geografiese inligtingstelsels
Boere het ’n behoefte daaraan om insette gedifferensieerd toe te dien, met ander woorde om kostedoeltreffendheid deur presisieboerderybestuur te verhoog. Dit kan slegs realiseer indien die plaas opgemeet is, die hulpbron (grond) gekwantifiseer is, ’n intydse rekordhoudingstelsel in plek is, monitering van die gewastoestand deur die groeiseisoen plaasvind en bestuursbesluite geneem word nadat die data geïnterpreteer is. Die gis-afdeling speel ’n sleutelrol hierin. Landboukundiges versamel data en verwerk dit tot bruikbare elektroniese inligting. Dit sluit tipies interpolasie van velddata en generering van aanbevelingskaarte in.

Kontak: (018) 581 1269