TERMYN- EN OPSIEKONTRAKTE

Die gebruik van vooruitkontrakte of ‘futures’ (hierna verwys as termynkontrakte) en opsies maak vooruitprysing beide deursigtig en verbind albei partye kontraktueel tot die transaksie. Die risiko van nie-lewering word sodoende verwyder van die historiese verskaffer(s) en oorgedra na ‘n gereguleerde, gesaghebbende markplek.

Termynkontrakte
Safex, of die “South African Futures Exchange”, is ‘n markomgewing waar kopers en verkopers ontmoet of verteenwoordig word, met die doel om termynkontrakte te koop of te verkoop. ‘n Termynkontrak is ‘n gestandaardiseerde kontrak wat op ‘n beurs verhandel word. Die termynkontrak is gestandaardiseerd in terme van die hoeveelheid en die kwaliteit van ‘n spesifieke kommoditeit wat op ‘n spesifieke plek en op ‘n spesifieke maand in die toekoms afgelewer sal word. Daar word op elektroniese verhandelingskerms vryelik onderhandel tussen kopers en verkopers oor die prys van die termynkontrak. Behalwe vir die prys is alle ander aspekte van die termynkontrak gestandaardiseerd en nie onderhandelbaar nie.

Termynkontrak-spesifikasies
Om die termynbeurs te beskerm moet elke koper en verkoper ‘n aanvangsmarge betaal. Die marge is R100 per ton. Daar word selfs rente op die marge verdien. Elke persoon met ‘n oop-posisie op die termynbeurs se posisie word elke dag aan die hand van die sluitingsprys van die mark verreken – “mark-to-market”. Met die markverrekeningsproses word daar ‘n bedrag, gelykstaande aan die hoeveelheid waarmee die klant se posisie op die spesifieke dag beweeg het, bereken.

Opsies
‘n Opsie is ‘n instrument wat ‘n verhandelingsreg van een persoon na ‘n ander oordra. Daar bestaan twee soorte opsies: ‘n roep-opsie (call) en ‘n plaas-opsie (put) – verkoop- of leweropsie. Net soos ‘n termynkontrak kan ‘n opsie gekoop en verkoop word.

Roep-opsie (call)
‘n Roep-opsie gee die koper die reg om die onderliggende bate te koop teen ‘n sekere vooraf-ooreengekome prys op ‘n sekere toekomstige datum. Vir die reg om die onderliggende bate te koop moet ‘n opsie-premie betaal word. Op Safex is die onderliggende bate van die opsie die ooreenstemmende termynkontrak en nie die kommoditeit soos byvoorbeeld die mielies self nie. Die waarde van ‘n roep-opsie sal toeneem as die prys van die onderliggende termynkontrak styg. Vir ‘n persoon wat wil spekuleer en dink dat die termynkontrakpryse gaan styg, is dit ideaal om ‘n roep-opsie te koop. As die pryse styg, neem die waarde van die opsie toe en as die pryse daal, is die opsie-premie die maksimum wat mens kan verloor.

Plaas-/leweropsie (put)
‘n Plaas-/leweropsie gee die koper die reg om die onderliggende bate te verkoop teen ‘n sekere vooraf ooreengekome prys op ‘n toekomstige datum. Die waarde van die plaas-/leweropsie sal toeneem as die prys van die onderliggende termynkontrak daal. Sou die prys van die termynkontrak styg, is die opsie-premie die maksimum verlies wat gely kan word.